Agtergrond

Die geskiedenis van Huis Steijn loop hand aan hand met die ontwikkeling van die Afrikaanse Hoër Meisieskool. Op 20 Januarie 1920 is die skool gevestig in Visagiestraat. Die behoefte na “’n mooi sierlike en doeltreffende skoolgebou met koshuis op ‘n stuk grond wat waardig is” word uitgespreek deur ouers, personeel en leerders. Met die hoeksteenlegging van die skool in 1925 word die eerste tree gegee in die verwesenliking van hierdie droom.
In die beginjare is daar verskeie wonings in die omgewing gebruik as loseer plek vir dogters. 23 Januarie 1930 word gekenmerk as die dag wat Afrikaanse Hoër Meisieskool ‘n volwaardige meisieskool geword het.

Juf Verster was die eerste skoolhoof, en haar ideaal was om ‘n dogterskoshuis op ons eie skoolgronde te vestig.
1932 neem die Raad van Beheer (vandag die Beheerliggaam) die besluit dat ‘n koshuis gebou sal word. ‘n Geskikte area is geïdentifiseer. Gedurende 1938 en 1939 is die koshuis gebou en in Julie 1940 is die deure geopen. Die koshuis het bestaan uit twee vleuels. Oos- en Weshuis met kamers vir dogters, woonkwartiere vir inwonende personeel, ‘n kombuis en wasgeriewe. Die koshuis het sy eie haarkappery gehad, en die dogters kon op wintersaande voor ‘n kaggelvuur ontspan met ‘n boek.

Dogters moes drie ure per dag onder streng toesig studeer, elke dag gaan stap vir oefening en as jy die koshuisreëls oortree het, was bossies uittrek jou straf.
Beddegoed is voorsien (twee wit lakens, ‘n kombers en blou deken) en elke dag tydens inspeksie moes al jou beddegoed afgetrek wees. Eers daarna het jy jou bed volgens streng voorskrifte opgemaak. As jou beddegoed nie netjies was nie, is jou bed gestroop en moes jy dit weer opmaak en bossies uittrek. Was jou kas en kamer onnet, kon jy verseker weet dat ‘n omgedopte kamer jou na skool begroet het wat jy blitsvinnig moes regpak voor middagstudie, en natuurlik was jou straf om bossies uit te trek!

Dogters kon slegs 1 maal per kwartaal huis toe gaan. Aan snoeperye/eetgoed in die koshuis was daar nooit ‘n tekort nie, maar eetgoed is nie in die kamers toegelaat nie. Dit was toegesluit in ‘n kas aan die onderpunt van die gang. Om vieruur elke dag is die kas oopgesluit en kon die dogters hulle snoepgoed kry. Baie hegte vriendskappe is so rondom vieruur gebou. Beskuit en koekies is gewoonlik versteek tot koffietyd tussen studies op die stoep.
Sondag oggende is almal saam kerk toe in gelid, geklee in hulle pragtige wit somersrokkies, wit handskoene, wit kousies en skoolskoene – net die matrieks het sykouse gedra. En die gehate wit panama hoed op jou kop. In die winter was dit vlootblou rokke met bruin handskoene en swart lang kouse (beter bekend as “black meraai”). Die dogters en seuns het apart gesit in die kerk.

Sondag middae moes jy briewe aan jou familie skryf om verslag te doen van wat die week by die skool gebeur het – so anders as vandag se selfone! Die hoogtepunt van Sondagaande was die toebroodjies en koffie buite op die grasperk voor die koshuis. Dan is stories uitgeruil en planne gemaak vir middernag feeste.
Pret geleenthede was volop, soos die aand toe die seuns vir die meisies wou kom sêr en hulle hulself vasloop in Juffrou Steijn – net om die volgende dag ‘n draai in die hoof se kantoor te maak. Of die aand toe van die seuns vir hulle meisies wou kom kuier het en ‘n gat in die draad geknip het, maar nie rekening gehou het met Juf Holtzhauzen se hond Kenosie nie. ‘n Hele paar seuns moes mooi verduidelik oor ‘n gat in die broek!

Vrydag aande se debat in die skoolsaal was die ideale geleentheid om kontak met die seuns te hê. Van skelm swemsessies en middernagfeeste na inkopedag, briefies aanstuur in die studiesaal en die insmokkel van troeteldiere was ondeundheid aan die orde van die dag.
In 1951 is nog nuwe slaaplokale vir die dogters aangebou, ‘n nuwe studiesaal, woongeriewe vir die koshuismatrones en ‘n woonhuis vir die skoolhoof Juf Steijn (vandag Juf Jordaan). In die verlede het die skoolhoofde elke Woensdag saam met die koshuis geëet en dan was die koshuisdogters benoud, omdat geen voet verkeerd gesit mag word nie. Juf Steijn het die personeel en leerders onderrig oor tafelmaniere en etiket en selfs hoe om ‘n mango reg te eet.
Juf. Venter se droom word in 1996 verwesenlik toe die nuwe senior koshuis met 62 dubbelkamers en ‘n nuwe herontwerpte kombuis – wat al die koshuise bedien, in gebruik geneem is.

Die Koshuisraad van 2010 het ‘n kompetisie gehou om elke koshuis nuwe name te gee. Ooshuis word Fidelitas (lojaliteit), Respicio (respek), Superbia (trots), Probitas (eerlikheid) – karaktereienskappe wat in ons Affie are ingeweef is. In die HAT word “koshuis” beskyf as ‘n inrigting wat kos en huisvesting verskaf – maar hierdie koshuis is veel meer as dit. Dit is ‘n huis waar hegte vrienskappe gevorm word, troos gevind word as die trane vlak sit, waar daar saam gelag en vreugdes gedeel word. Dit is soveel meer as ‘n inrigting – dit is ons koshuis, waar ons hart lê!